Maak jou eie biltong

 

Hier is ‘n maklike manier om jou eie biltong te maak.

Bestanddele:

  • 2.5 kilogram goeie vleis
  • 300ml heel koriander
  • 40 gram growwe sout
  • 2ml koeksoda
  • asyn
  • 20ml suiker
  • warm water
Biltong bestanddele

Bestanddele

Optionele bestanddele

  • knippie peper
  • knippie salpeter
  • Worchester sous
  • chilli poeier

Stap een – Sny die vleis

Vleis vir biltong

Lekker stuk vleis

So hier het ek ‘n stuk silverside.  Bietjie aan die duur kant, maar nou ja.  En ‘n lekker skerp mes om die vleis mee te sny.

Vleis vir biltong

Reg om te sny.

Sny die vleis in lang stroke saam met die draad, so duim-dikte is goed.

Biltong snit

Sny hom saam met die grein!

Ek sny die meeste van die vet af.  Hoekom?  Wel, die biltong sal baie langer hou hoe minder vet daaraan is.  OK, ek weet die gaan nie lank hou nie want jy gaan dit dadelik opeet.

Stap twee – Rooster die koriander

Koriander sade

Heel koriander sade

Die geheim van goeie biltong is dat jy geroosterde koriander moet gebruik.  Dit gee die biltong daai spesiale smaak.  Dis redelik maklik:  gooi die heel koriander in ‘n droë pan of kastrol en sit dit op die stoof.  Roer dit gereeld rond totdat dit lekker begin rooster.  Jy sal ruik wanneer dit reg is.  Moenie die sade laat brand nie!

rooster die koriander

Rooster die koriander

Wanneer dit afgekoel is kan jy dit deur ‘n maler werk om die sade op te breek.

Stap drie – Meng die bestanddele

Meng die gebraaide koriander, sout, suiker en koeksoda.

So ons het ‘n bietjie growwe sout.  Die 40 gram is die minimum sout wat ek sal aanbeveel vir die hoeveelheid vleis:

growwe sout

Growwe sout

En ‘n bietjie koeksoda:

Koeksoda

Koeksoda

En suiker:

Suiker

Bruin suiker

Ek maal die growwe sout ook en gooi dan die speserye bymekaar.

Biltong spices

Biltong spices

Stap vier – Speserye op die vleis

Vryf die mengsel met die hand aan elke stuk vleis en pak die vleis in ‘n plastiek-houer, met die dikste stukke onder en die dunner stukke bo.

Biltong met speserye

Vleis met speserye

Stap vyf – Bietjie asyn op die vleis

So hier het ons ‘n bietjie asyn:

Asyn vir biltong

Asyn

Moenie so suinig soos ek wees nie, kry goeie kwaliteit asyn.

Sprinkel asyn bo-oor die vleis wat jy in die houer gepak het.  Sit die bak vleis in die yskas en laat dit staan vir so 6 tot 12 ure.  Hoe langer dit staan hoe meer gaan die sout in die vleis intrek.

Stap ses – Spoel die vleis af

Meng 200ml asyn met twee liter lou water.

Asyn en water

Asyn en water

Spoel elke stuk vleis vinnig af in die asyn mengsel.

Biltong vleis

Vleisie reg om te hang.

As jy nog koriander oor het, gooi dit sommer nou op die vleis.

Stap sewe – Maak gereed om jou vleis te hang

Ek gebruik sommer skoon tou om die vleis mee te hang.  Jy kan hakies maak van draad as jy so voel, dan kan jy dit weer gebruik.

Tou om biltong te hang.

Tou vir jou biltong.

Sny ‘n gaatjie aan die dikste kant van elke stuk vleis om die tou deur te ryg:

Sny die vleis

Sny gleuf in elke stuk vleis.

Ryg dan ‘n stukkie tou deur elke stuk:

Stukkie tou

Ryg 'n stukkie tou deur

Nou is ons reg vir hang.  Hopelik het jy al jou biltong-boks gemaak?

Biltong vleis

Reg om te hang!

Stap ag – Hang die vleis op

Hang die vleis op in jou biltong boks wat jy self aanmekaar gesit het sodat geen stukke aanmekaar raak nie.  Sien hier onder.

Hang vleis

Die vleisie hang nou lekker

Hang stil!

Maak die boks toe en los hom uit vir ten minste drie dae.  Die dunste stukkies sal net-net begin reg wees na drie dae as jy hou van ‘n nat stukkie biltong.  Jy gaan natuurlik elke vyf minute kyk hoe dit vorder…

 

Die Biltong-boks

Jy kan ‘n klomp geld spandeer aan ‘n boks om jou biltong in te droog, of jy kan baie maklik jou eie maak.  Hier is wat ek gemaak het.  Ek sal nie ‘n prys wen vir ontwerp nie, maar dis prakties en ek het gebruik wat beskikbaar is.

Biltong boks

Eenvoudige biltong droër

Neem ‘n groot boks en sit foelie onder in.

Sny ventilasie-gate onder en bo in die boks, soos jy kan sien op die foto.

Sit ‘n 60 W gloeilamp in die boks.  Op die foto hier bo is die gloeilamp so half binne-in ‘n kleiner boksie wat met foelie oorgetrek is om te keer dat die vleis dalk drup op die lamp!

Draad bo-in om die vleis aan op te hang.

Gloeilamp in die boks

Daar kruip die gloeilamp weg.

Party mense hoe daarvan om ‘n klein waaiertjie in die boks in te bou, maar dis nie regtig nodig nie.

Hou ongewenste elemente weg

Maak seker dat geen vliëe naby die vleis kan kom nie.

As die kinders/jou vrou nie die biltong gaan steel terwyl dit nog droog raak nie, is daar ook die moontlikheid van ander ongewenste skobbejakke.

As ‘n waarskuwing aan almal, ek het aangeneem dat hierdie monster rustig lê en slaap, maar toe ek die vleis begin sny kom hy by.

Slaghuis kat

Slaghuis-kat ruik rou vleis.

En raak toe so opgewonde dat hy die suikerpot van die kas af duik.

suiker

Morsig.

  2 Responses to “Maak jou eie biltong”

  1. dankie dit lyk sommer baie goedkoop en lekke!!!!!!!!!

  2. Ek sal ook elke 5 min kyk hoe dit vorder lol(G)